ongetiteld
ek belowe ek probeer -
ek kyk en hoor
maar is nie in staat om
in te neem wat jy aan my
probeer oordra nie.
met elke woord wat jy uiter,
word ek instinktief bewus hoe
elke label teen my vel skuur en wil ek
eenvoudig net uit my klere breek
sodat ek vir eens
heeltemal kaal
voor jou kan staan.
ek hou nie van leuens nie,
en ek weet dis vir jou moeilik
om nie te verstaan hoekom
ek nie bel nie, maar ek weet ook
jy hou nie van verkeerd wees nie.
hoe verwag jy dan moet ons kan praat
as jy glo dat alles vanselfsprekend is,
terwyl die teenargument
uit jou ontstaan?
ek sal saam stem en erken:
ek maak nie reg met jou nie.
verskoon my as ek iets sê
wat jou ontstel, dis net
dit put my uit
as jy heeltyd dink ek vernietig
wanneer ek slegs probeer
asem skep.
Al wat ek van jou vra,
is dat jy waarde aan my woorde heg;
en my vrees deel, wanneer ek dink aan
hoe die mense sal praat
as hulle hoor
die kind het sy ma
in sy slaap
doodgemaak.
14 notes
·
View notes
Skaduwee Liefde
Die skaduwees het ‘n hap uit die volmaan
gevreet terwyl ek tussen die naglelies vir
jou gewag het. Die sterre het hulle ogies
geknip en die koel oggend briesie het deur
die ritselende blare gedans. My hart was ‘n
kloppende trompet. Tussen die stiltes het jy
uitgeklim en die wêreld het sy asem
teruggehou. Stil-stil het jy saggies gedans
met my siel. Jou diep oë was poele waarin die
skoonheid van die Melkweg versteek is. Jou
lagplooie het sagte spinneraknessies gespin
wat al jou glimlagte vasgevang het. My
vingers het stil die kurwe van jou neus
gevolg tot die punt van jou lippe - wat so
teer aan myne kon raak. Ek het na jou
gekyk en ek wou die nagson in jou wese
vang terwyl jou hande die buitelyne van my
skouers tussen die sterre opgeteken. Ek
was verlief. Maar voor ek die woorde
versigtig in jou hart kon bêre was jy weg.
Weg, om weer tussen die skaduwees te gaan
skuil.
-I.J. #afrikaans #afrikaansisniedoodnie #liefde #poësie
3 notes
·
View notes
26 augustus 2015
verslete sit ek
in die koue lig
en snik na die maan
wit.
oorverdowend
stroom die stilte
hier uit my oor.
asem
in
asem
uit
oë juk
van die
bloedtraan en
tap tog voort
- ek weet hy staan
daar.
al kykend al wagtend
ag jirr, dat hy moet bestaan
is onnodig, o Heer.
nou vries ek hier en
bid weer vir myself.
ek voel die pikgit
yswind kom,
ek voel sy
talle glinster hande
vol rowe en vratte
my mond, lyf en nek omhels;
my saam egalig aftrek
grondvlaks.
asem
in
en
uit
dis donker,
en ek is te bang om te kyk.
sy ysvingers
vis deur my hare
en dring deur my mond,
“ek het jou lief”
hyg hy heerssugtig
terwyl sy benerige vlerke
my liggaam
omsingel.
ek teug
aan my wasem.
asem in
en asem uit
my ruggraat kriewel
van sy wintertong
wat so slinks
oor my bekken
seil.
ek snak
ek sná-
na my asem
in
uit
in
uit
die bevrore
stalaktiet
antarkties geklee
vol gal en verdriet
krul my tone inwaarts
van angs verkluim.
ek swig nog alleen
voor die nag se sweet.
ek is dalk verkeerd,
maar gódweet
ek het probeer.
*
o Heer,
dat hy moet bestaan, is onnodig.
die wind is koud
en skraal
en ek word weer
hier neer gelaat kaal.
ek vra U genade,
o Heer, bedek my in sterlig.
laat my ryp
in die kou.
ek bid nog steeds vir myself.
asem in
en
uit
in
en
uit
uit
uit.
13 notes
·
View notes